Boodskap van die hoof, Mnr. Harmse

So het 2022 ons bekruip en met diepe dankbaarheid is ons weer terug – reg om met oorgawe en toewyding die jaar aan te pak. Leerders is van dag een af voltyds terug by die skool en akademie, sport en kultuur gaan weer, soos voorheen, volstoom voort. Die jaar het tot dusver gelukkig nog geen COVID-verwante verrassings opgelewer nie.

Soos in die verlede, bly ons skool op die voorpunt van tegnologie en het ons nou met groot sukses en goeie resultate, Google Classroom begin gebruik, om met ouers te kommunikeer. Dit het verseker dat inligting op ʼn gemaklike en gebruikersvriendelike platform aan ouers deurgegee word. Soos met enigiets nuuts, behels dit steeds ʼn strewe na die ‘perfekte kommunikasiemiddel’. Ons ontvang egter positiewe terugvoer vanuit alle oorde.

In ons akademiese program, poog ons steeds daarna om grense te verskuif en nuwe uitdagings aan te pak. Die wêreld verwag van ons om leerders in staat te stel om krities te dink en hul kennis prakties toe te pas. As ons dít wil verseker, moet ons steeds aan internasionale eksamen- en toetsplatforms deelneem. Ons kurrikulum moet gedurig uitgebrei en aangepas word, om relevant tot die leeromgewing daarbuite te wees. Terwyl dit ons strewe is, sal daar altyd ʼn plekkie vir ’n leerder wees wat inkoop in ons manier van leer. Daarom is alle leerders by ons welkom.

Ons hoogs-opgeleide personeel het besondere vaardighede en kan met groot sukses, uitdagings die hoof bied. Iets wat ons die afgelope twee jaar net weer besef het, is dat kontak-onderwys onvervangbaar is.

Soos reeds genoem is die sport- en kultuurprogram weer voluit aan die gang en ons sien in die uitstekende deelname en ouerbetrokkenheid, dat dit iets was wat leerders, ouers en onderwysers baie gemis het. Ons sien uit na ʼn suksesvolle sportjaar, soos reeds in die swembad en op die atletiekveld bewys is. Soos wat die jaar vorder, sien ons ook uit na die koor- en revue-optredes wat voorlê en waaraan ook hard geoefen word.

Ons glo dat ouerbetrokkenheid van kardinale belang is om ʼn suksesvolle skool te bedryf. U ondersteuning in die daaglikse aktiwiteite dra tot die sukses daarvan by. Ons waardeer u positiewe ingesteldheid en samewerking, met alles wat ons aanbied.

Saam sien ons uit na nog ʼn ‘groot’ jaar met baie hoogtepunte. Wees verseker van ons onderwyskorps se volgehoue toewyding. Ek glo dat 2022 ons almal se stoutste verwagtinge sal oortref.

Scroll to Top